Sweedse Bitters

Muffins 1

Die beste medisyne smaak bitter – Confucius

Voor die ontwikkeling van die wetenskap van die moderne Farmakologie, wat die effek van geïsoleerde chemiese stowwe in medisyne en biologie verken, is siektes en beserings behandel met behulp van medisinale plante, wat gebruik is in die vorm van aftreksels, tinkture, salwe, rome, enemas, suigtablette en pille. In China, byna 4000 jaar gelede, het ‘n man met die naam Shen Nung die eerste inheemse kruieboek saamgestel, wat beskrywings van 365 plant-gebaseerde medisyne bevat het. Later, gedurende die Ming-dinastie, het Li Shih-chen ‘n boek genaamd die Groot Kruiehandboek geskryf, wat ‘n farmakopee was van meer as 1800 plant-, dier-, mineraal- en metaalstowwe. Dit het hom meer as 27 jaar geneem om die werk te voltooi. Mense wat in landelike en afgeleë plekke gewoon het en nie toegang tot goed toegeruste apteke en geleerde dokters gehad het nie, was in die verlede grotendeels afhanklik van behandeling wat ingesluit het die genesingswaarde van plante wat in die omgewing gegroei het en oorgedra is van geslag tot geslag. Alle antieke beskawings het inderdaad ‘n ryk geskiedenis van die gebruik van kruie as medisyne, van die Sumeriërs, wie se 5000 jaar oue kleitablette met resepte van kruiemengsels van die oudste voorbeelde van geskrewe voorskrifte is, tot die inheemse Amerikaners, wat die Switserse kruiedokter Dr. Vogel bekendgestel het aan die wonders van die Echinacea plant.

Paracelsus was ‘n Switserse dokter van die Renaissance era en word beskou as die vader van Toksikologie. Hy het sink en laudanum benoem en word vandag erken vir sy bydrae tot psigoterapie deurdat hy toe reeds raakgesien het dat siektes dikwels hul oorsprong in sielkundige toestande het. Hy het ʼn kruiemengsel ontwikkel wat hy ‘Elixir Ad Longam Vitam ‘, of’ Medisyne vir ‘n lang lewe’ genoem het en wat vandag bekend staan as Sweedse bitters. In die 17de eeu het ‘n Sweedse dokter, Dr Claus Samst, die formule herontdek en ‘n manuskrip saamgestel met 46 toestande waarvoor dit gebruik kan word. Hy het na bewering die rype ouderdom van 104 gehaal en te sterwe gekom in ‘n perdry-ongeluk (miskien moes die perd ook van die elikser gedrink het!) in ‘n tyd toe die gemiddelde lewensverwagting maar tussen 20 en 40 jaar was.

250 jaar later het Maria Treben, wat later ʼn bekende spreker oor die geneeskundige waarde van kruie en skrywer van die topverkoper boek ‘Gesondheid deur God se Apteek ‘ sou word, van die druppels gedrink nadat sy ingewandskoors in ‘n vlugtelingkamp tydens die oorlog opgedoen het. Sy is genees van die pynlike nagevolge van die siekte deur ʼn dag lank ʼn kompres met die vloeistof teen haar maag aan te wend. Sy het ‘n verkorte weergawe van die resep ontwikkel wat sy ‘Klein Sweedse bitters’ genoem het en geskryf oor haar baie ervarings en suksesse daarmee vir toestande wat wissel van letsels, wonde en snye tot longontsteking, slegte spysvertering, kneusplekke, rumatiekpyne, gehoorverlies, tinnitus, insekbyte en slapeloosheid.

Dit klink dalk vergesog en daar bestaan geen wetenskaplike bewyse om die sukses van haar behandelings te verklaar nie, maar die kruie in die formule het wel ‘n lang geskiedenis van volksgebruik om die funksie van die lewer, galblaas, pankreas en immuunstelsel te verbeter. Dit is ‘n waardevolle toevoeging tot enige medisynekas in die huis en bied verligting vir – onder andere – hardlywigheid, opgeblasenheid, sooibrand, winderigheid, rumatiek, jig en naarheid of hoofpyn wat verband hou met swak spysvertering. Dit bied verligting vir hardlywigheid maar sonder die ongemak en krampe wat kenmerkend is van sommige lakseermiddels. Dit verhoog ook die afskeiding van speeksel en maagsappe en kan help om eetlus te stimuleer wanneer dit gereeld geneem word.

Sweedse bitters word deesdae wêreldwyd bemark en is beskikbaar as ‘n gedroogde kruiemengsel sowel as ‘n alkoholiese vloeistof. Dit het ‘n baie sterk en bitter smaak en kan net so of met ‘n bietjie water of vrugtesap gedrink word, verkieslik ‘n halfuur voor etes. Wanneer dit uitwendig as ‘n kompres aangewend word, moet room of salf eers aangesmeer word om die vel te beskerm en verkleuring en irritasie te voorkom. Snye, skrape, insekbyte, brandwonde, veluitslae, letsels, puisies en verstuitings kan alles daarmee behandel word.

* Moet nie deur vroue wat borsvoed of swanger is, alkoholiste of pasiënte wat ʼn lewerdisfunksie het geneem word nie.

Maak jou eie Sweedse Bitters:

Jy kan jou eie Sweedse bitters maak met behulp van ‘n mengsel van die gedroogde kruie*, wat beskikbaar is in vooraf gemengde verpakkings van 100g. Sit die gedroogde kruie in ‘n 2 liter glasbottel en gooi 1 1/2 liter 38% -40% alkohol – vodka werk goed – daaroor. Laat die bottel in die son op ‘n vensterbank of naby die stoof staan vir 14 dae en skud daagliks. Syg die vloeistof deur ‘n sif of kaasdoek en gooi dit in kleiner donker glasbottels. Seël en bêre in ‘n koel, donker plek. Dit sal vir baie jare hou en verbeter met die tyd. Hoe langer dit staan, hoe meer potent word die mengsel. Skud goed voor gebruik.

Om jou eie Sweedse bitter salf of room te maak kan ‘n 50/50 mengsel van die vars of gedroogde kruie in ‘n glasfles met olyfolie bedek word en op die vensterbank of in die son gelaat word vir twee weke of meer. Die mengsel word dan gefiltreer en gevoeg by ‘n basis bevogtiger soos Epizone A room, lanolien of byewas. Wanneer byewas gebruik word, moet olie-mengsel eers verhit word voor die gerasperde byewas daarby gevoeg en goed gemeng word. Gooi die room of salf in gesteriliseerde glasflesse of salfpotjies en gebruik soos nodig.

* Resep vir ‘Klein Sweedse bitters’ uit die boek Gesondheid uit God se Apteek deur Maria Treben

10 gram Aloe poeier (Aloe ferox)

10 gram Mirre (gom van Commiphora myrrh)

10 gram Saffraan (blomblare van Crocus sativus)

10 gram Senna blare (Senna alexandrina)

10 gram Kamfer (Cinnamomum camphora)

10 gram Manna (sap van die bas van Fraxinus ornus)

10 gram Rabarberwortel (Rheum palmatum)

10 gram Burnet-saxifrage wortel (Pimpinella saxifraga)

10 gram Carline Distel wortel (Carlina acaulis)

10 gram Angelica wortel (Angelica archangelica)

10 gram Zedoary wortel (Curcuma zedoaria)